Die kragtoevoer is gister ure lank in Clanwilliam onderbreek nadat ’n man (42) doodgeskok is toe die natuur geroep en hy glo teen ’n elektriese paal geürineer het.
Volgens mnr. Kelvin Beukes, ’n inwoner van die dorp, het die voorval om 07:00 plaasgevind.
Mnr. Chris Jacobs, ’n pa van vyf kinders, het glo aan die brand geslaan toe ’n kabel vlamgevat het nadat hy teen ’n elektriese paal naby Viooltjiestraat geürineer het.
“Die lewendige kabel was in die grond geanker en strek tot bo-aan die paal,” het Beukes gesê.
Hy het gesê die munisipaliteit moes die kabel, wat ’n gevaar vir die publiek ingehou het, herstel omdat dit glo nie die nodige komponente gehad het om ’n kortsluiting te verhoed nie.
Jacobs het los tuinwerkies gedoen om die gesin te onderhou.
Mnr. Terence Khumalo, direkteur van tegniese dienste by die Clanwilliam-munisipaliteit, het gesê ’n ondersoek word gedoen. Volgens die polisie sal ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.
|
|